Algemene studievrae
Vir hoe lank sal ek deel van die studie wees?
U sal vir tot 16,5 maande in die studie wees.
Hoeveel keer moet ek na die studiesentrum toe gaan?
Gedurende die studie sal u tot en met 22 studiebesoeke hê. Gedurende die studiebesoeke sal u toetse en prosedures hê.
Moet ek alle studiebesoeke bywoon?
Dit is belangrik om alle geskeduleerde besoeke by te woon om u gesondheid na te gaan en te sien hoe die studiebehandeling u moontlik beïnvloed.
Wat is die voordele om deel te wees van ’n kliniese studie?
U mag of mag dalk nie direk voordeel trek om in die kliniese studie te wees. U gesondheid sal egter gereeld gedurende die studie gemonitor word deur dokters met kundigheid in lewersiekte. Enige inligting wat tydens die studie ingesamel word, kan dokters help om meer te wete te kom oor die behandeling van ander met soortgelyke alkoholverwante gesondheidsprobleme in die toekoms.
Sal dit my enigiets kos om deel van die studie te wees?
U hoef nie te betaal om aan hierdie studie deel te neem nie. U sal die studiemedisyne en al die studietoetse en -prosedures gratis kry.
Wie borg die studie?
Die globale biofarma-maatskappy GlaxoSmithKline borg die studie. Hulle betaal die personeel by die studiesentrum om hierdie studie uit te voer.
Wat as ek besluit om by die studie aan te sluit en dan van plan verander?
Dit is vrywillig om in die studie te wees. Indien u besluit om aan te sluit en dan van plan verander, kan u die studie te eniger tyd verlaat. Om die studie te verlaat, sal nie u gereelde mediese sorg beïnvloed nie.
Studiebehandelingsvrae
Watter studiebehandeling sal ek ontvang?
Indien u vir die studie kwalifiseer, sal u lukraak toegewys word om óf die studiemiddel óf die plasebo te ontvang. Die plasebo lyk net soos die studiemiddel, maar bevat geen aktiewe medisyne nie.
Hoe word die studiebehandelingsgroepe toegewys?
’n Rekenaarstelsel sal gebruik word om deelnemers lukraak aan studiebehandelingsgroepe toe te ken. Dit word verewekansiging genoem.
Sal ek weet watter studiebehandeling ek ontvang?
U en die studiespan sal nie weet watter studiebehandeling u ontvang nie. Dit help om die studie regverdig en onbevooroordeeld te hou.
Hoe werk die studiemiddel?
Die studiemiddel werk deur die hoeveelheid van ’n proteïen wat in die lewer gemaak word, te verlaag wat vermoedelik betrokke is by die ontwikkeling en verergering van ALD. Deur die hoeveelheid van hierdie proteïen te verlaag, kan die studiemiddel moontlik die toksiese effekte van alkohol op die lewer verminder.
Is daar enige newe-effekte as gevolg van die studiemedikasie?
Soos met alle medisyne, is daar ’n kans op newe-effekte, wat ongewenste of onbedoelde effekte van ’n medisyne is. Gesels met die studiedokter vir meer inligting oor moontlike newe-effekte. U gesondheid sal gedurende die hele studie noukeurig gemonitor word. Stel die studiedokter in kennis indien u enige newe-effekte of veranderinge in u gesondheid opmerk.
Sal ek steeds die studiebehandeling ontvang as ek alkohol tydens die studie drink?
Dit word aanbeveel vir mense met lewersiekte om op te hou met alkoholgebruik. Dit is egter nie altyd moontlik nie. U sal steeds aan hierdie studie kan deelneem, selfs al het u nie opgehou drink nie.


